Vous êtes sur la page 1sur 7

Behandel ander soos jy behandel wil word!

 
Ds. Willem Louw: NG kerk Miederpark 
 
• Hoe voel jy as jy in ʼn ry staan en iemand kom druk kort‐kort voor jou in die 
ry in? Hoe lank sal jy dit bly verdra? 
• Hoe voel jy as jy jou swaar verdiende geld gebruik om iets te koop en kort 
daarna kom steel iemand dit wat jy gekoop het en jare se spaargeld en 
opoffering is in een oomblik daarmee heen! 
• Hoe voel jy as jy betaling beloof word vir jou harde werk, maar aan die 
einde van jou harde werk ontvang jy niks nie! Gaan jy tevrede wees? 
• Hoe sal jy voel as iemand jou aanhoudend onregverdiglik benadeel omdat 
jou kleur nie reg is nie? 
• Hoe sal jy voel as jy elke dag in jou eie huis deur jou lewensmaat afgekraak 
en beledig word? As jy elke dag moet hoor jy is nie goed genoeg nie? As jy 
verbaal afgekraak word of fisies aangerand word in jou huis. Hoe lank sal jy 
dit bly verduur? 

Ons hoef nie ver te gaan soek nie om voorbeelde te kry hoe mense mekaar 
moedswillig benadeel, beskinder, besteel, of bedrieg nie. Dit is dikwels geleerde 
en ordentlike mense wat goed opgevoed is wat hierdie dinge doen. Die motief is 
meestal gierigheid, en strewe na roem en mag. 

• Net die week vertel ʼn persoon my hoe ʼn prokureer haar finansieel ingeloop 
het. By nadere ondersoek het sy gevind dat daar reeds ʼn paar soortgelyke 
sake teen die prokureer opgestapel is. 

Lees: Mt.7:12‐14 

Mt.7:12 sê: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle 
ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.” 

1. Die laaste deel van hierdie vers wil sê die beginsel wat ons hier hanteer is 
uiters belangrik. Die woorde: “Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die 
profete” beteken: Dit is die kernsaak is wat in die wet en profete na vore kom. 


 
Jesus bevestig dat die Ou en Nuwe testament se regulasies oor jou naaste, in 
hierdie een belangrike beginsel saamgevat kan word. Ons kan met sekerheid 
sê dat Jesus hier ʼn uiters waardevolle beginsel vir ons wil deurgee. 
• Onwillekeurig wonder mens, as dit dan so ʼn belangrike saak is, waarom pas 
ons dit nie op alle terreine van die lewe toe nie? 
• Vers 13 sê: Wees streng en presies in die toepassing van hierdie 
waardevolle Christelike beginsel. Daar is baie mense wat afwyk van hierdie 
waardevolle beginsel. Hulle loop die breë weg. Dit lyk lekker om te maak 
wat jy wil en mense uit te buit en te na te kom. Sulke mense se pad loop 
egter na die verderf. Die pad wat lei na die lewe is egter smal en die wat 
volgens hierdie beginsel van geregtigheid lewe is min! 

Daar is net twee paaie: Reg of verkeerd; goed of sleg; die pad na die hemel of die 
pad na die hel! 

Die hek is wyd oop op die breë pad. Daar is vryheid, daar kan elkeen maak wat hy 
wil. Daar is baie wat op die pad is. Jy gaan baie vriende op die pad hê. Dit is nie ʼn 
eensame pad nie. Almal wil op die pad loop! Die hek staan wyd oop: Dit is 
uitlokkend en uitnodigend om te maak wat jy wil! Enigeen kan daar deur gaan! 

Die smal pad: Die poort wat na die lewe lei is nou en die pad wat na hierdie poort 
loop is smal. Daar is dus streng beginsels wat geld op hierdie smal weg. Reg en 
geregtigheid is een van hierdie beginsels. ʼn Ander beginsel is om nie skynheilig te 
wees nie, maar heilig. Dit beteken ook dat ek nie ander sal veroordeel nie, maar 
eerder my self sal ondersoek. Die mense wat kans sien om op hierdie pad te loop 
is min! 

 Al hierdie dinge probeer net beklemtoon hoe belangrik die een beginsel is wat 
Jesus nou voorhou aan ons. Dis die kernsaak van die Wet en die profete. 

Kom ons noem dit die goue reël van geregtigheid: “Behandel ander soos jy 
behandel wil word!” Hoeveel probleme sou daar nie in die samelewing verdwyn 
het, as ons maar die reël toegepas het nie. (Verkragtings sou verdwyn het, 
moorde sou gestop het, diefstal sou verdwyn het, onregverdige bevoordeling of 
uitbuitding en onderdrukking sou alles verdwyn het! 


 
Kom ons kyk nou sorgvuldig wat beteken die woorde: “Alles wat julle wil hê dat 
die mense aan (vir) julle moet doen, moet julle ook aan (vir) hulle doen.”  

2. Een interpretasie van hierdie vers sou kon wees: Behandel ander 
mense goed, dan sal jy ook goed behandel word.  
Dis egter nie wat hier staan nie! (As ons dit so interpreteer word dit weer ʼn 
manier om my eie selfsugtige behoeftes te bevredig! Die bedoeling van die 
beginsel is juis om my tot op daardie punt te bring waar ek onselfsugtig 
optree!). 

In die plek van hierdie goue reël maak ons dikwels ons eie reëls: Ons baseer ons 
reël op die bekende 50/50% beginsel. “Wat jy vir my doen, dit sal ek vir jou 
doen.” Daar is baie mense wat volgens hierdie reël optree maar, dit verskil 
radikaal van Jesus se reël in Mt.7:12. So ʼn interpretasie maak die aanname dat 
ek iets verdien het en dat dit nou eers weer jou beurt is om my te vergoed!  

• In die praktyk klink dit so: Verneuk jy my, verneuk ek jou! Behandel jy my 
goed, sal ek jou ook goed behandel! Ek het laas vir jou ʼn guns gedoen en 
nou is dit jou beurt om vir my ʼn guns te doen. Of erger nog: “Jy het nie vir 
my ʼn guns gedoen nie, en daarom gaan ek nie vir jou ʼn guns doen nie!” Ek 
gaan nie die eerste een wees wat ingee nie! Ek gaan seker maak dat jy jou 
kant bring! So beland ons in ʼn afwaartse spiraal met ons huweliksmaat, ons 
kinders of met ons vriende. 
• Daar is boonop ʼn verborge motief. Ek tree eintlik so op dat jy later dit weer 
vir my terug moet doen! So kry ek wat ek wil hê! In die diepste wese bly ek 
dus steeds selfsugtig!  
• Ek kan die 50/50% beginsel selfs gebruik om iemand om te koop! 
(Voorbeeld: Die man gee vir sy vrou ʼn mooi goue hangertjie en nou kan sy 
nie met vrymoedigheid kla oor die jag‐pakket wat hy sonder haar 
medewete gereël het nie!) 

Ons kan sê die 50/50% beginsel is billik, maar dit is hoegenaamd nie wat God 
bedoel het nie. Jesus het bedoel: “Vra jouself af wat jy wil hê dat die ander 


 
persoon vir jou moet doen, en neem dan die inisiatief en doen dit vir daardie 
persoon! 

• Liefde is opofferend. Liefde gee homself sonder om te wag dat ander gee. 
 
3. ʼn Tweede interpretasie van die teks beteken: “Doen aan ander soos jy 
aan jouself gedoen wil hê!” Dit beteken ons moet ander mense op die gelyke 
vlak stel as wat ons is. (Ons is net so verbind aan dieselfde reg soos wat hulle is 
en hulle is net so geregtig op die voordele daarvan soos wat ons is!) Plaas 
jouself in die presiese plek en omstandighede as diegene met wie jy deel! Tree 
dan teenoor hulle op soos jy wil hê daar moet teenoor jou opgetree word! 
Kortom: Behandel ander soos jy behandel wil word!  

Wanneer ons die teks so uitlê word onselfsugtigheid die basiese konsep van 
hierdie liefdes reël! Ek verklaar eintlik dat ek geregtigheid teenoor jou 
nastreef! Ek is bereid om jou 100% te bedien, selfs al is jy nie gewillig om 
dieselfde aan my te doen nie!  

• Hierdie lewensreël: “Behandel ander soos jy behandel wil word!” kan die 
geheim word wat jou verhouding met ander mense mooi laat bly en selfs 
beter laat ontwikkel. 
• Die Romeinse keiser Aleksander Severus (wat tussen 222 en 235nC 
geregeer het), het die reël as lewensreël in sy koninkryk verkondig en dit 
selfs in goud op die mure van sy paleis en in sy klerekas aangebring. (Quod
tibi, hoc alteri - do to others as you would they should do to you.) Sedertdien is dit 
wêreldwyd op menige plekke aangebring – veral in die regspleging is dit 
bekende woorde. 
• Die sakeman JC Penney wat ʼn kettingwinkelgroep in 1902 begin het, het 
ook hierdie “goue reël” sy slagspreuk gemaak om goeie kliëntediens te 
bevorder. 

Kan jy vir een oomblik dink hoe hierdie goue reël jou huwelik vandag sal 
beïnvloed? Dink net hoe ʼn man vir sy vrou sal sê: “Vergewe my dat ek selfsugtig 
opgetree het. Ek wil jou graag voortaan die beste behandeling gee.” 


 
Dink hoe hierdie goue reël elke vriendskap sal beïnvloed. Wanneer een vriend of 
vriendin ongesiens in die behoeftes van sy of haar maat voorsien sonder dat 
iemand anders dit ooit eers opmerk! 

4. Die verassende van God se Mt.7:12 reël is dat jy selfs billik moet optree 
teenoor iemand wat jou sleg behandel het en nie goeie behandeling verdien 
nie! Jesus vra moenie mense wat jou sleg behandel het ook sleg behandel nie. 
Nee, behandel daardie mense steeds goed soos jy behandel wil wees! Hierdie 
woorde sluit baie nou aan by die bekende gebod: “Jy moet jou naaste liefhê 
soos jouself!” 
• Om jou vyande lief te hê verbreed letterlik die tref wydte van God se 
radikale liefde.  
• Jesus pleit: (Mt.5:38‐41) Moenie ʼn oog vir ʼn oog en ʼn tand vir ʼn tand gee 
nie. Nee, om jou vyande in hierdie konteks lief te hê beteken behandel jou 
vyande soos jy behandel wil wees!  
• Jesus sê: “as iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander 
wang.” In Jesus se kultuur is ʼn klap op die regterwang duidelik beskou as ʼn 
klap met die agterkant van die hand. ʼn Klap met die rugkant van die hand 
was twee keer meer beledigend as ʼn klap met die palm van die hand. 
Wanneer Jesus sê draai die ander wang ook, beteken dit in plaas daarvan 
om weerwraak te kies, moet ons liefde kies. Wraak klap terug. Liefde draai 
die ander wang om hom rooi van skaamte te maak in die hoop dat hy 
wakker skrik en sy lewe sal verander. Die tweede klap kan harder wees! 
Jesus moedig dus ʼn daad van dapperheid aan en nie ʼn daad van 
lafhartigheid nie! 
• Jesus se liefde is verrassend nuut. As ʼn soldaat van ʼn besettingsleer ʼn 
burger van die land dwing om sy goed een kilometer ver te dra, bied dan 
aan om dit twee kilometer ver te dra! As ʼn teenstander probeer om iets van 
jou te vat, besluit dan om dit aan hom te gee! 
• Jesus vra konsentreer op verhoudinge, nie tyd, aansien, besittings of geld 
nie. Gee liefde! ʼn Prys van haat en bitterheid is hopeloos te hoog om te 
betaal en daardeur alle kanse op die herstel van verhoudinge te benadeel! 
Kies die goue reël! Moenie wegskram van liefde nie! 

 
Dit is hierdie wenresep van Mt.7:12 wat stukkende verhoudinge op ʼn 
verrassende wyse kan nuut maak!  

As jou huwelik of vriendskapsverhouding tans in ʼn afwaartse spiraal vasgevang is, 
wil ek jou uitdaag om Jesus se goue reël te begin leef! Begin eenvoudig om dit 
elke dag in elke situasie teenoor elke persoon prakties toe te pas en jy sal verbaas 
wees hoe alle verhoudinge rondom jou nuut word! As jy so negatief voel oor 
iemand dat jy nie kans sien om dit toe te pas nie, soek dan net een klein dingetjie 
in daardie persoon se lewe waaroor jy dankbaar kan wees en dank en prys God 
dan vir daardie positiewe dingetjie in daardie persoon se lewe. Dit sal jou 
perspektief herstel sodat jy die goue reël kan begin toepas! 

5. Die groter konteks: 
Mt.7:12 handel oor geregtigheid, maar dit is interessant om die groter 
konteks te sien waarbinne hierdie stelling geskryf staan.  
• Geregtigheid beteken ook dat ek nie mense moet oordeel en veroordeel 
nie. Mt.7:1‐2 (Soos jy ander oordeel, so sal jy geoordeel word) 
• Geregtigheid beteken ook dat ek nie skynheilig moet wees nie. Moenie 
dink jy is beter as ander nie! Moenie dink jy tree op vanuit ʼn meer heilige 
posisie nie. Kerkmense moet ook begin besef ons is nie beter nie. Ons almal 
maak foute. Ons almal is van God se genade afhanklik! 
• Interessant is dat Jesus geregtigheid en gebed ook aan mekaar verbind. 
Jes.1:15‐17 sê dat iemand wat vol ongeregtigheid is, nie met 
vrymoedigheid tot God sal kan bid nie! Die presiese woorde lees: “As julle 
julle hande in gebed uitstrek, sal Ek my oë vir julle toemaak. Selfs al bid julle 
hoe baie, sal Ek nie luister nie, want julle hande is met bloed bevlek. Was 
julle, reinig julle. Moenie voor My verskyn, as julle verkeerd doen nie. Hou 
op met kwaad doen. Leer om weer goed te doen, sorg dat daar reg geskied, 
gaan die verdrukker teë. Laat reg geskied aan die weeskinders, behartig die 
regsake van die weduwees.” 
Kortom: Ons kan nie verwag om goeie dinge van God te ontvang as ons 
eie optrede onredelik en onbillik is nie! (Prakties beteken dit ons moenie 


 
net vroom toegewyd aan God lewe nie, maar in die praktyk ook eerlik en 
billik teenoor ons medemense optree, anders word ons skynheilig!) 
ƒ Voorbeeld: Wanneer ons oor lone met ons werknemers onderhandel, 
moet ons telkens ons afvra: As ek hulle werk gedoen het, watter salaris 
sou ek as billik en regverdig beskou het? Sou ek in hul omstandighede 
tevrede wees met hul salaris? Watter vergoeding is billik en 
bekostigbaar? 
ƒ Wanneer ek billik en regverdig is, kan ek ook God se seën op my 
besigheid af bid, maar sal ander ook met vrymoedigheid vir my bid en 
my wil seën. 
ƒ As ek onregverdige besigheidpraktyke toepas, sal niemand met 
vrymoedigheid seën oor my wil afbid nie. 

Jy kan vir my honderde redes opnoem waarom die soort liefde nie sal werk in 
Suid‐Afrika nie. Jy kan my wys op die kultuurverskille, die ekonomie, die politieke 
en sosiale probleme ens. Jy kan vir my honderde redes opnoem waarom hierdie 
liefde nie sal werk in jou huweliksverhouding nie of in jou familie of met jou 
kolegas nie! 

Die Bybel noem een rede noem waarom dit in alle kulture en in alle 
verhoudinge kan werk: Jesus! Jesus se lewe bewys dat dit die soort radikale 
liefde is wat die wêreld verander, wat verhoudinge verander! 

Kies vandag om hierdie radikale liefde binne elke verhouding te leef! 

Behandel ander soos jy behandel wil word! 

Amen 


 

Vous aimerez peut-être aussi